Category Archives: #HOOP

MOSSIEDAG


In die konsentrasiekamp, meer as 100 jaar gelede, sit Anette Marais op ’n stomp en skud die stof van haar verslete klere af. Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ’n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasie kamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank nog . … ..

Anette lees die woorde van Matt 10:29 – “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”

Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal klein mossie op haar skouer. Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie, die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasie kamp in Bethulie.

Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop word vir hierdie vrouens.

Op 21 Mei 1902 was die oorlog verby, Anette het op pad terug na haar huis gestop by ’n vrou met invloed en haar vertel van die mossie-boodskap, sy het dit weer oorvertel en Genl Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk (kwartpennie) laat verskyn.

Amper 80 jaar later sit Jak de Priester in ’n park in Londen. Sy geld is op, hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome en sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die “mossie” boodskap en bid vir die soveelste keer vir werk! Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het, hy spring op die eerste trein en begin met ʼn lang dag se onderhoude. Moeg maar gelukkig en met ’n permanente werk klim hy weer laatmiddag op die trein.
Toe hy inklim sien hy ’n muntstuk op die vloer lê, hy tel dit op, en daar op ’n trein in Londen hou hy ’n Suid-Afrikaanse 1c in sy hand, met ’n mossie agter op. Hy vertel dat die wêreld rondom hom gaan stil staan het, dat hy besef het dat God daar by hom op die trein is en dat gebed sy waarborg is in hierdie stukkende wêreld.
Vandag ’n paar jaar later, skud ek my beursie uit. Ek sit ʼn 1c neer vir my vriendin met borskanker, nog ʼn 1c vir huwelike wat sukkel, ’n 1c vir iemand na aan my hart se werksomstandighede, vir enkel ouers en weduwees, en ek besef die mossie boodskap is dalk net een versie in ’n dik Bybel, maar ’n Almagtige, liefdevolle God staan agter dit!

Here, dankie, dat daar altyd hoop is. Dankie, vir bakens langs die pad wat ons help om geduldig te wees, terwyl ons wag vir U, om op die perfekte tyd ons omstandighede te verander.
Geseënde “mossie” dag vir jou.

Wat doen ons met die seer?


traan

Ons vergeet maklik dat God in beheer is en word dan so maklik gefrustreerd met die lewe om ons. Elke teleurstelling en teëspoed word vir ons ‘n irritasie omdat dit nie volgens ons plan uitgewerk het nie. Ons verwag te maklik dat alles om ons lewens draai en dat ons so graag ‘n sukses wil wees, maar wat beteken sukses nou werklik?

Ek was vandag weer herinner aan ‘n storie “The Tablecloth” waar een persoon se teleurstelling en goddelike ingryping ander mense se lewens geraak het. Ek dink net dat ons elke nou en dan moet besef dat die lewe nie oor ons suksesse gaan nie, maar oor God se plan vir ons lewens en hoe dit ander mense beïnvloed. Ons fokus ten opsigte van hierdie waarheid bepaal hoe ons teenoor ander mense sal reageer wat naby ons is op daardie oomblik as gevolg van ‘n spesifieke gebeurtenis. God gebruik dit om ons lewens te verryk en so ook ander mense wat dit nog meer nodig het. Daar was ‘n artikel geskryf, “What do we do with suffering“, deur Jay Adams wat ook meer lig hier op werp.

Mag ons Here en Verlosser vir ons oop oë gee in situasies soos hierdie, sodat ons Hom vir ander mense kan wys.

Die Belangrikheid van Gemeenskap


Ons land se reëls en regulasies is so min Suid Afrikaans as wat jy kan kry. Die opstellers daarvan was internasionaal en het geen idee gehad wat Suid Afrikaans is nie. Ek voel dat Suid Afrikaans tog in onsin weerspieël moet word, al is ons ‘n redelike nuwe Suid Afrika.

Ek het lank terug gesê dat iemand ‘n boek moet skryf getitel “Hoekom ubuntu Suid Afrika verlaat het saam met apartheid”. Ubuntu is ‘n Afrika term vir ‘n kwaliteit wat die noodsaaklike menslike deugde insluit soos deernis en menslikheid. Dit kommunikeer die belangrikheid van gemeenskaplike verhoudings, respek, gemeenskap, waardes en verantwoordelikhede netjies verpak in godsdiens. Dit verteenwoordig eenheid, want ‘n persoon is slegs ‘n persoon deur die gemeenskap. Dit beteken dat die gemeenskap jou ouer, leermeester, vriend en ondersteuning is. Ja, en daar is dit, ons mense soek vryheid om te doen wat hulle wil en hoe minder reëls en regulasies daar is hoe beter, hul wil nie deur ander iets geleer of gesê word nie. Ek verstaan ware vryheid as volle kennis, aanvaarding en besitneming van die reëls en regulasies. Vrees en frustrasie kom waar hierdie ware vryheid ontbreek.

As Christene word ons geroep tot ubuntu – Jesus en Paulus het baie gepraat van die gemeenskap van gelowiges. Ons moet as een liggaam kan funksioneer en Jesus as ons hoof kan aanvaar, respekteer en gehoorsaam. Ubuntu is dalk ‘n Afrika term, maar dit kom vanaf die Joodse leringe wat na Etiopië versprei het gedurende die tyd wat Salomo koning van die Jode was. In latere jare het dit verder en verder suid versprei tot in Suid Afrika en Lesotho.

Ek was bevoorreg gewees om in die platteland groot te word waar gemeenskap belangriker was as in die stad en het geleer van die rol wat gemeenskap speel. Ons is almal aanmekaar gekoppel, die een aan die verbind. Ek sê altyd aan my leerders dat dit wat jy in die donker onder jou bed doen jou verhouding met ander om jou beïnvloed.

gemeenskap

Gemeenskap is belangrik en huidiglik wil niemand dit erken nie, maar dit is besig om meer en meer uit te rafel, huisgesinne val uitmekaar en meer kinders as ooit vantevore raak verlore in die samelewing (of is dit nou alleenlewing). Ek besef dat die hele samelewing nie ‘n perfekte eenheid kan vorm nie, maar as kinders van God kan ons daarna streef. As elkeen van ons ons verhouding met God as die belangrikste in ons lewens beskou sal dinge reeds verander. Wanneer ons by God wil wees, Hom wil aanhang, afhanklik van Hom wil wees, lief vir Hom wil wees, Hom wil geniet, Hom wil behaag, dan het ons Hom lief met ons hele wese, bly ons in Hom, bly ons in Sy liefde, bly ons in Christus en is ons vervul met Sy Gees (geïnspireer deur Rebecca se skrywe). Omdat God ‘n hart het vir alle mense glo ek dat sosiale geregtigheid binne-in ons liefde vir God verborge is. Dus gee ons om vir ander mense, die vernederde, die verlore, die uitgelate, ons naaste, omdat ons God liefhet. Hierdie liefde word dan ook deur ons dade en woorde sigbaar. Sodoende kan ons die gemeenskap herstel wat besig is om uitmekaar te val.

Matthéüs 22:34-40, Johannes 15:7

Wie was jou wonderwerk vandag?


Ons het elke dag ‘n ietsie nodig om ons fokus weer op God te plaas, weg van die alledaagse probleme. Daar is dan daardie persoon, meeste van die tyd onverwags, wat vir jou daardie ietsie sê of doen wat alles in jou binneste skud en jou oë weer net op Hom vestig.

Dit is daardie mense wat my wonderwerke is…

Eenvoud van geloof


Die struktuur van ons geloof bestaan hoofsaaklik uit twee dele wat dit vorm gee. Hierdie twee dele is oortuiging en vertroue. Ons glo in die mate wat ons oortuig is van en die mate wat ons vertrou. Geloof, volgens Jesus (Matteus 8:26, 14:31, 15:21), wissel in grootte. Dus, hoe meer ons oortuig is van ‘n saak en hoe meer ons daarin vertrou hoe groter is ons geloof. Ons geloof bepaal ook dan ons aksies en optredes.

‘n Eenvoudige voorbeeld kan hierdie dalk beter uitbeeld. Jy gaan kuier by mense vir die eerste keer en kom in ‘n onbekende vertrek in. Hulle nooi jou uit om te gaan sit. In die vertrek staan ‘n paar stoele en ‘n stukkend bank. Jy kyk vinnig rond, kies ‘n stoel en gaan sit. Jy het die stoel gekies omdat jy oortuig is en vertrou dat die stoel nie gaan breek as jy daarop gaan sit nie, anders sal jy gesê het dat jy liewer wil staan of op die vloer wil sit.

Oortuigings is dit wat volgens jou absoluut waar is en vertroue is die betroubaarheid en vermoëns wat jy put uit jou oortuigings en saam gee dit vir jou geloof.

Dus skenk geloof ons die dryfkrag, vermoë, houding en waardes vir ons aksies, reaksie en optredes. Die grote van ons geloof kan dus waargeneem word in ons lewens en hoe ons dinge doen.

Praat met die grond!!!


Een middag het ‘n groep van ons saam gebid. Een van die dames, betrokke by die ontwikkeling van spesifieke lands gebiede, het gesê dat God haar geleer het om met die grond te praat.

Nadat sy dit gesê het, het ek gedink aan Jesaja 55:

Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur (Jesaja 55:10-11).

Ons is die grond wat die woord van God ontvang deur die reën en sneeu vanuit die hemel, dit maak ons nat en stel ons instaat om voort te bring en uit te spruit. So sal die Woord die plan wat God vir ons het suksesvol uitvoer. Ons moet net gereeld ons ‘grond’ (liggame) herinner aan die plan van God, deur die woord te lees en daaroor te mediteer, sodat ons die God van hoop in elke situasie van elke dag kan ontvang!

En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees! (Romeine 15:13).

Onthou ook om met jou omgewing te praat, jou situasies en vrese en selfs dit te herinner aan die plan van God. Sodanig maak jy dit ook onderdanig aan die Woord van God. Hierin neem jy dan aktief deel in die plan wat God vir jou lewe het.

Nee, ons veg met wapens, maar dit is nie wapens van die wêreld nie. Hierdie wapens het baie krag omdat dit God se wapens is, ons kan die vyand se sterk mure afbreek met daardie wapens. Ons breek die vyand se slim woorde af. Mense dink dinge wat keer sodat hulle nie vir God kan leer ken nie, en hulle is trots wanneer hulle so dink. Maar ons breek alles af wat hulle dink. Ja, ons maak gevangenes van alles wat mense dink sodat die mense gehoorsaam kan wees aan Christus (2 Corinthians 10:4-5)[ABA].

 

Gesindheid van volharding


Ons sê maklik dat die ”aanhouer wen”, maar tog as dit by ons geloof kom gee ons so maklik op.

Gesindheid van Volharding

Ons vra God vir inspraak en hulp, maar ons is halfhartig in die uitvoer en uitleef van wat ons glo. Hierdie halfhartigheid staan in werklikheid in die pad van volkome vryheid, sukses, seën, vervulling en oplossing (2 Konings 13:17-19).

Verder sê hy: Neem die pyle. En hy het dit geneem. Toe sê hy vir die koning van Israel: Slaan teen die grond! En hy het drie maal geslaan en opgehou. Daarop word die man van God baie kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan (2 Konings 13:18-19).

As ons dan kies om in volle oorgawe te lewe in dit wat ons glo en vanaf God ontvang, word ons in staat gestel om lewe, seën, vervulling, oplossing en wat ook al nodig is te spreek in elke situasie, ervaring, probleem en verwoesting wat in ons persoonlike lewe, in die lewe van ander mense en in ons land is (Jesaja 55:9-11). Ons sal dan soos Eségiël lewe kan spreek oor die dooie of verwoeste situasie (Eségiël 37:1-14).

God gebruik nie volmaakte mense nie, anders sou Hy slegs vir Jesus kon gebruik het. Hy gebruik onvolmaakte mense wat kies om in volle oorgawe tot Hom te lewe.

Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie. Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge (Jeremia 17:7-8,10).