Vergifnis IS onvoorwaardelik


Nog nie werklik reaksie gekry op my vraag of is vergifnis onvoorwaardelik of nie. Hierdie is wel ‘n hartroerende storie wat vir my die onvoorwaardelike uitskree:

Moedersdag… my dierbare moeder, ek het jou lief en dankie vir die wonderlike moeder wat jy vir my is! Dit is woorde wat ek nooit weer vir haar sal kan sê nie, want op Donderdag 2 Februarie 2017 is sy in haar huis in ’n sekuriteitsoord in Naboomspruit wreedaardig deur haar tuinwerker vermoor.
Ek het die Saterdag alleen van Tzaneen na Naboomspruit gery, om die moordtoneel te besoek. Magoebaskloof se mis was dig, so ook my gemoed. Hoe hanteer jy so iets? Hierdie is nie ’n preek wat ek sou maak nie… Hierdie was die harde werklikheid wat aan my hart kom ruk het. Deur die digte mis heen het ek die Here gevra: Help my, om hierdie pad soos ’n kind van U te loop.

Die Heilige Gees het my in my besluit gelei, om die pad van vergifnis te stap. Hoe seer en hoe moeilik dit ook al sou wees, want dit is die pad wat Jesus Christus my leer en voorskryf. My God gun my ’n lewe van vrede en vreugde (1 Kor 15:13) en ek gaan nie ’n valse beheerpunt in my lewe hê wat dit van my gaan wegneem nie. Niks gaan tussen my en die Here, vir wie ek so lief is, kom nie. Ek en my broer het van die begin af onderneem om ons oë op God te vestig en nie op die oortreder nie. Ons het besluit om nie saam met die oortreder in die tronk te wees nie, maar om vry te lewe. Min het ek besef, hoe God my op hierdie pad sou begelei. Die Maandag voor haar moord, het ek ’n preek oor vergifnis gemaak, wat ek presies so in my lewe kon toepas! Toevallig? Nee… toe-val-Lig!
Donderdag 22 Maart 2018 is die oortreder tot 21 jaar gevonnis, en die Lig sou weer op my val. Ek was nie gedagvaar om in die hof te getuig nie, maar was net ’n toeskouer. Toe gebeur iets wat nie gewoonlik in Suid-Afrikaanse howe gebeur nie. Die regter het my gevra of ek graag iets wil sê? Ek het opgestaan en in die getuiebank gaan staan, en die moordenaar van my geliefde moeder gevra om my in die oë te kyk. Toe kon ek vir hom sê: Wat jy aan ons gedoen het, was verskriklik en het ons harte in stukke gebreek. Maar ek dien ’n God wat van my vra om jou te vergewe, soos Hy vergewe. En dit is wat ek sal doen. Ek vergewe jou. Jy is vergewe. En ek hoop dat jy die geleentheid in die tronk sal aangryp om die Here Jesus as jou Saligmaker aan te neem, want jou aardse lewe is in effek verby. Met die aanhoor van die woorde het hy begin huil. Nadat die vonnisoplegging verby was en ek die hofsaal verlaat, het hy na my geroep en gesê: Sir, I am very sorry and will do what you have asked from me! Daarna was ek heeltemal vry en kon ek alles agter my laat.
Hierdie hele ervaring het my geloof in Jesus Christus geweldig verdiep. Ek weet net een ding, as ons doen wat God vra, is dit ’n bevrydende pad, ’n pad wat uitloop op vrede en vreugde… te midde van ongelooflike hartseer en pyn.

(deur Jan Truter)

 

vergewe

3 gedagtes oor “Vergifnis IS onvoorwaardelik”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s