Gehoorsaamheid en deursettingsvermoë


Die dominee en sy elfjarige seuntjie het die gewoonte gehad om elke Sondagmiddag na kerk die dorp in te vaar en traktaatjies uit te deel met die evangelieboodskap op. Een Sondag kom die seun by Pa aan, toegewikkel in sy warmste klere: “Ek is reg pa!” Die dominee is effens uit die veld geslaan – dit is bitter koud en die reën kom af in emmersvol. “Nee Seun, ons kan nie vandag gaan nie – nie in hierdie eendeweer nie..” Teleurstelling is duidelik op die outjie se gesig te lees: “Maar Pa.. gaan mense dan nie Hel toe as dit reën nie?”

“Kyk Seun, ek gaan beslis nie in sulke weer uit nie!”

“Maar mag ék dan maar gaan Pa? Asseblief Pappie.”

Nadat die dominee goed oor die saak gedink het, gee hy vir sy seuntjie ‘n pak traktaatjies om te gaan uitdeel, en opgewonde vaar die outjie alleen die sopnat strate in.

Daar was byna g’n siel te siene op straat nie, dus loop hy van deur tot deur en deel sy traktaatjies uit. Na twee ure se harde werk het hy nog net een traktaatjie oor. Sopnat gereën en bibberend van die snerpende koue stap hy na ‘n huis toe om sy laaste traktaatjie af te gee. Hy lui die klokkie, maar niemand maak oop nie. Hy lui weer ‘n slag, maar binne is dit doodstil. Dan druk hy die knoppie met méning, en lui en lui, maar binne gebeur absoluut niks.

Uiteindelik draai hy om om te loop, maar dit is asof ‘n stemmetjie binne in hom vir hom sê om terug te gaan. Hy draai om, lui weer die klokkie, en begin om aan die deur te klop, en later te hamer met sy vuis. Dit is asof iets hom by daardie deur hou. Net toe hy wil moed opgee gaan die deur stadig oop. ‘n Ou tannie wat duidelik baie bedroef is vra vir hom of sy hom kan help met iets. Met ogies wat glinster en ‘n glimlag van oor tot oor gee hy vir haar sy traktaatjie: “Ek is jammer ek het Tannie gepla, maar, maar ek wou net vir Tannie kom sê dat Jesus ‘rêrag’ vir Tannie lief is. Hier is my heel laaste traktaatjie vandag – daarop vertel dit alles van Jesus en Sy groot liefde!” En daarmee gee hy vir haar die traktaatjie, draai om en hardloop huistoe.

Die volgende Sondagoggend staan die Dominee op die preekstoel. Sy oë gaan oor sy gemeente, en toe vra hy of daar dalk iemand is wat ‘n getuienis het wat hy wil lewer voor die diens begin. Heel agter in die kerk staan ‘n ouerige dame op, haar gesig stralend.

“Niemand ken my in hierdie kerk nie,” begin sy vertel, “want sien, voor verlede Sondag was ek nie ‘n Christen nie, en ek was nog nooit in hierdie kerk nie.” Die mense rek eintlik hulle nekke om hierdie vreemdeling te sien. Sy begin haar verhaal vertel:

“My man is ‘n paar jaar gelede dood, en toe los hy my stoksiel alleen op hierdie droewige aarde. Laas Sondag was dit ‘n besonder koue, nat en mistroostige dag, en ek het net gevoel dat daar vir my absoluut niks hier oorbly om voor te leef nie. Ek het ‘n stuk tou gevat en ‘n stoel, en ek is op na die solder toe. Daar het ek op die stoel geklim, die tou om ‘n balk vasgemaak en die ander punt om my nek. En daar staan ek, so bitterlik jammer vir myself. Ek het die einde van my paadjie bereik! Net toe ek wil spring, lui die deurklokkie – ek het my byna dood geskrik. Ek het doodstil gestaan en gedink dat wie ook al die klokkie lui sou padgee.. maar hy het nie! Die gelui het al harder en dringender geword, en ek het begin wonder wie mý deurklokkie so sou lui, want niemand het ooit vir my kom kuier nie. Naderhand het die gelui ‘n geklop geword en naderhand het die persoon met sy vuiste teen die deur gehamer. Ek kon dit nie meer vat nie, en toe maak ek maar die tou los om te gaan kyk wie dit is.”

“Ek kon my oë nie glo toe ek die deur oopmaak nie, want voor my het ‘n seuntjie gestaan – sy gesiggie stralend soos ‘n engel s’n. En daardie glimlag – ek kan dit skaars beskryf! En toe hy begin praat, is dit soos ‘n engel wat met my praat: “Tannie”, het hy gesê, “Tannie, ek kom net vir Tannie vertel dat Jesus vir Tannie ‘rêrag’ liefhet!” My hart wat so morsdood was het in my keel geklop. En toe gee hy vir my hierdie traktaatjie wat ek vashou.”

“Toe hy weg is, vat ek die traktaatjie, en ek lees dit oor en oor – ek het elke woord daarin ingedrink. En toe stap ek op na die solder toe, en ek gaan haal die tou en die stoel, want toe was hulle nie meer nodig nie, want sien, ek is nou ‘n Kind van die Koning. Julle kerk se adres was agter op die traktaatjie, en ek het net vanoggend gekom om te kom dankie sê vir die engeltjie wat my lewe kom red het, en my gered het van die ewige verderf in die hel.”

Teen daardie tyd was daar seker nie ‘n enkele persoon in die kerk wat nie gesit en trane afvee het nie. Die dominee het van die preekstoel afgeklim en sy klein engeltjie styf teen sy bors vasgedruk terwyl die trane vryelik oor sy wange loop. Daar is seker nie ‘n gemeente wat ‘n groter oomblik van glorie beleef het as hierdie een nie, of ‘n pa wat meer vervul was met liefde en eerbetoon vir sy seun as hierdie een nie . buiten Een: hierdie Vader het óók Sy Seun in die donker, koue wêreld ingestuur om die Boodskap van Redding aan die wêreld te bring. Sy Seun was verag, verwerp, gespot, geslaan en aan ‘n kruis vasgespyker. En toe alles verby was, het Hy Sy Seun terug verwelkom en Hom op die troon laat sit om te regeer oor die heelal.

Daardie Seun bring vandag steeds hoop en redding vir die wêreld, maar hy vra vrywilligers soos ek en jy om Sy boodskap met vreugde uit te dra aan mense wat verlore is.

 


 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s