Waar kom Kersfees vandaan?


Die meeste mense dink verkeerdelik dat Kersfees ontstaan het uit ‘n klomp heidense feeste. Baie onkunde bestaan oor die ontstaan en tradisie van hierdie fees. Dit is gewoon nie waar dat Kersfees vanuit ‘n heidense agtergrond begin het nie. Die grootste deel van die vorm daarvan en inkleding kom uit ‘n bepaalde Ou Testamentiese (OT) fees.

Voor CHRISTUS

Die wortels en betekenis van Kersfees lê in ‘n fees wat deur gelowiges gehou is lank voor CHRISTUS se tyd.

In 168 v.C. het die Siriese Griek, Antiochus Epifanus, Jerusalem binnegeval en die tempel ontheilig deur onder meer ‘n standbeeld van Zeus daarbinne op te rig en varke op die altaar te offer, die varkvet op die boekrolle van die OT Bybel en tempelgoedere te sprinkel en die tempel sodoende te verontreinig. JESUS verwys na hierdie gebeure in Mat 24:15 as die “gruwel van verwoesting”. (Vgl. Daniël 9:17 ens.). Die Joodse gelowiges van die OT word in daardie tyd selfs gedwing om varkvleis te eet. Die opstand wat hierop gevolg het, staan bekend as die Makkabeër opstand onder leiding van die seuns van Matatias. Hierdie gebeure gee aanleiding tot die grootste deel van die boek van Daniël.

Deur die Makkabeër opstand slaag die Jode (Judas Makkabees) daarin om Jerusalem te herower van die Siriërs en op die 25 ste Kislev (kom met min of meer met ons maand Desember ooreen) in 164 v.C. word die tempel weer gereinig. Hierdie wyding van die tempel word later in ‘n fees herdenk wat bekend staan as die Chanoeka en tot vandag toe word dit deur die Jode gevier. Op watter dag? Die Oosterse ekwivalent van 25 Desember: Op watter dag is die tempel ontwy deur Antiogus? 25 Kislev 167 v.C. Onthou dat die Oosterse jaarkalender van die Westerse jaarkalender verskil. (Die Oosterse berekening van die jaar word met die maan gedoen, terwyl die Weste ‘n vaste siklus het volgens die son. Dit neem ‘n uitvoerige afsonderlike bespreking om dit te verduidelik.) Chanoeka word gevier van 25 Kislev tot 2 Tevet as Kislev 30 dae het, en tot 3 Tevet as Kislev 29 dae het. Dit kan voor, op of na die 25 Desember val omdat die Joodse kalender volgens die maan bereken word.

Die fees staan in die Ou Testamentiese tyd al bekend as die fees van die ligte, die Chanoeka, of die fees van die tempelwyding. Almal wat dit bygewoon het, het kerse en ligte en lampe gedra op pad na die tempel. Palmtakke en ander takke is rondgeswaai. Hoe is die fees van die tempel se inwyding dan in verband te bring met ligte en lampies? Die ligte word aangesteek om die wonderwerk te herdenk van die klein kruikie heilige kandelaar olie wat in die tempel ontdek is nadat die heidene uit die tempel gedryf is en wat agt keer langer gebrand het as normaalweg tot tyd en wyl die nuwe heilige olie voorberei kon word. Dit is die wonderwerk van die olie wat so lank gehou het, wat die Goddelike bevestiging en seël was op die her-ingebruikname van die tempel, wat gevier is met die Chanoeka fees. Die ligte simboliseer hierdie vryheid.

Die olie self was in die Ou Testament beskou as die simbool van die GEES van GOD. הוהי חוך . Die sewevoudige kandelaar (minora) is heeltyd onafgebroke in die tempel gebrand. As u Ex 25:31-35 lees sal u sien dat die kandelaar soos ‘n amandelboom en dié se takke moes lyk. Daarom is die ligte wat aan die boom hang, direk te verbind aan hoe die kandelaar daaruit gesien het.

‘n Kenmerk van die fees, voor CHRISTUS se tyd al, is die vrolike atmosfeer (1 Makkabeus 4:56-59) en die geskenke wat die Jode aan mekaar gegee het. Die fees word begin deur eers een kers na sononder aan te steek in die gesin. Elke verdere aand word kumulatief nog ‘n volgende kers aangesteek totdat daar met die agtste aand agt kerse brand. Ook lampe is voor die huise aangesteek. In die tempel word die Hallel gesing (Psalm 113-118) wat ook tydens Paasfees deur alle tye gedoen word. Hierdie Chanoeka fees wat op die 25 ste Kislev (Desember) gevier is, dien as agtergrond van Johannes 10:22, Johannes 8:12, en Psalm 30. Onnodig om te sê dat kinders, reg van die begin af, hierdie fees die meeste geniet het. Die fees was so gewild dat geskiedskrywers beskryf hoedat dit in die aand gelyk het of Jerusalem aan die brand was. Soos wat die mense op pad aangestap het na Jerusalem met hulle brandende lampies, is die hele omgewing in een sprokiesland omskep. Geskenke is vir die kinders versteek in die huise en op ‘n gegewe tyd moes hulle daarna begin soek. Onthou, ons praat van die fees in die Ou Testamentiese tyd en kan aanvaar dat die kind JESUS ook hierdie fees gevier het.

JESUS CHRISTUS van Nasaret is die vervulling van die Wet. In Hom het die hele Ou Testament profeties in vervulling gegaan. Ook die Chanoeka fees, die Fees van die Ligte, die fees van die Tempelwyding.

Na CHRISTUS.

Na JESUS se hemelvaart het die dissipels besef dat Hy die ware Tempel is soos Hy gesê het, en dat die ware Lig in Hom alleen is. GOD met ons. Matthéüs 1:23 : “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: GOD met ons.” Die fees van die tempelwyding van die Ou Testament het hulle in die CHRISTUS vervulde vorm van die ware tempelwyding gevier. JESUS se menswording is van toe af herdenk op dieselfde dag as die ou fees van die tempelwyding of fees van die ligte. Kersfees was aanvanklik nie te verstaan as die letterlike geboorte van JESUS nie, maar dat JESUS as die Tempel van GOD en die ware Lig na die aarde gekom het. In daardie sin wel die menswording of geboorte.

In die vroeë Kerk is die geboorte van JESUS op hierdie dag, 25 Desember gevier en agt dae daarna die besnydenis van JESUS (in nomine Jesus) op 1 Januarie. Kersfees is vooraf gegaan deur vier Adventsondae, 1. ad te levavi (Ps 25:1). 2. populus Sion (Jes 30:19). 3. gaudete (Filippense 4:4) en 4. rorate coeli (Jesaja 45:8). Die Oosterse Kerk vier ‘n verdere epifanie fees op die 6 Januarie (Matthéüs 2:1-12).

Die Kersboom-gebruik het waarskynlik ontstaan omdat die ligte / lampe in hierdie feestyd aanvanklik aan ‘n amandelboom boom buite die huis opgehang was (onthou die minora in die vorm van ‘n amandelboom!) en later binne in die huis ingebring is. Soos wat die christendom in Europa inbeweeg het, het die soort boom verander.

Natuurlik kan alles rondom Kersfees ook op ‘n wêreldse manier verdraai word en die ware kern daarvan misgekyk word. Ons glo dat ons erkenning moet gee vir diegene wat in CHRISTUS ook gewerk en getuig het. Dit bring ons by Kersvader. Die weldoener by uitnemendheid naamlik, (Sint) Heilige Nicolaas (280-345 n.C.) uit die Grieks-Ortodokse geskiedenis, se optrede is ineengeweef met hierdie dag omdat hy altyd geskenke aan kinders en minder bevoorregtes uitgedeel het. Hy was ‘n werklike gelowige wat soveel verrig het dat hy vir altyd onthou word in die Kersvader figuur.

Aanvanklik was ek van mening dat die ronde krans wat sommige mense op hulle voordeure in die Kerstyd sit, van heidense oorsprong was soos wat destydse heidene in die misteltakke (voëlent takke, Eng. “mistletoe”) geglo het. Hierdie heidense gebruik was geleë in die ritueel om mirte blomme en takke deur die Druïdes (heidense priesters van die ou Germane) met ‘n goue sekel op ‘n bepaalde tyd te sny vir allerhande rituele gebruike.

Navorsing oor die Boek Ester (wat die Hebreeuse naam Hadassa, dit beteken mirre, gehad het) het nuwe inligting oor die gebruik van mirre in die Kerstyd vir my ontsluit. Die Europese ekwivalent van mirre is die mirteboom, waarvan die “mistletoe” bloeiwyse van dieselfde familie is. Die gebruik om goud, wierook en mirre met Kerstyd as simbole van JESUS se geboorte te vestig, het uiteindelik gelei tot die gebruik van die Europese mirre op die voordeure van gelowiges in die vorm van die kransie.

Liedere

Die twee mees bekendste liedere rondom Kersfees is “Gloria in excelcis Deo” n.a.v. Lukas 2:14 en “Stille nag, heilige nag”. Eersgenoemde is al gesing so vroeg soos die 2de eeu N.C.

“Stille nag, heilige nag” het op 24, 25 Desember 1818 sy beslag gekry toe ‘n priester, vader Joseph Mohr van Hallein (Oostenryk) ontbied is na ‘n arm vrou wat geboorte geskenk het aan ‘n kind. Die ouers het gevra dat hy die kind moet kom seën. Hy het na die baba gegaan en was so aangeraak deur die moeder se geloof, dat, toe hy die aand terugkeer, en sien hoe fantasties die ligte lyk van die mense wat met hulle lampe na sy Kerkgebou toe vir die Kersfees op pad was, hy die onverbreeklike verband met JESUS se eie moeder en die geboorte van haar Kind op ‘n besondere manier ervaar het. Hierdie inspirasie het gelei tot die woorde van hierdie lied nog daardie selfde aand. Die volgende dag 25 Desember 1818 het sy vriend en musiekonderwyser, Frans Xavier Gruber, die wysie binne ‘n uur gekomponeer en “Stille Nag” is dieselfde dag in die erediens gehoor!

Deur Willie Prinsloo