Die werk van die Gees vra fyn balans


van Christians.co.za E-Newsletter

In ons wêreld word nie meer veel gepraat oor die werk van die Heilige Gees nie. Dis seker omdat ons samelewing al só gesekulariseer is dat mense eintlik nie meer lekker weet hóé om daaroor te praat nie.

Die vraag is nie regtig meer hoe werk die Gees van God in ons lewe nie. Die vraag is eerder: Is God regtig?

Baie klem word op die heil van die gemeenskap gelê: dat daar nie meer swaarkry en armoede en ekologiese verrinnewering en mensehaat moet wees nie. Waar daar aksies is wat dié dinge beveg, so word gesê, dáár is God, dáár werk die Gees van Christus, selfs al weet die mense wat daardie goeie werk doen dikwels self niks van Christus nie, en al doen hulle dit nie eens in sy Naam nie.

In die gereformeerde tradisie is daar altyd erkenning verleen aan die werk van die Gees in die wêreld, maar dit is duidelik onderskei van die heilswerk van God in die gemeente. Die algemene werk van die Gees is verstaan as die wyse waarop God sy skepping in stand hou en die mag van die sonde beteuel om die aardse lewe moontlik te maak. Daarteenoor bly die besondere werk van die Heilige Gees nodig, daar waar mense as individue tot die ware kennis van God en die verlossing van sonde deur die geloof in Christus kom en die ewige lewe ontvang.

By sekere groepe in die Protestantisme, veral by bepaalde vroomheidsgroepe, is die werk van die Gees dikwels verskraal tot iets wat net met jou eie heil en saligheid te doen het. Dan is Christenskap ’n baie persoonlike saak van ’n (egoïstiese?) verhouding tussen my en God, met min of geen uitwerking daarvan nie op die omgewing en die gemeenskap waarin ek my bevind. Dan gaan dit om ’n Pinksterbeweging waar daar wel baie óór die Heilige Gees gepraat word, maar die werking van die Gees beperk word tot die individu en sy persoonlike genot van ervarings met God, terwyl die nood van die wêreld uit die oog verdwyn.

In daardie sin help die nuwere teologie ons goed om te verstaan dat verlossing nie net betrekking het op die redding van siele in ’n geestelike sin nie, maar dat dit ’n totale begrip is wat die mens se hele lewe en werklikheid omvat. Die Bybel praat van sjaloom. Om dus “gered” te wees, is om iemand te wees deur wie die Gees van Christus in die wêreld hierdie sjaloom dien. Dit beteken prakties dat Christenmense hulle agenda van die wêreld af ontvang en betrokke raak by dinge wat die menslikheid van mense raak en dien. Christen-wees is om Gees-mens te wees, dit is om hart en siel by die dinge van die wêreld betrokke te wees en binne jou eie konteks van die wêreld ’n beter plek te maak – hoe gering dit ook al soms vir jou mag lyk.

En tog sou dit verkeerd wees om die aardse sjaloom sonder meer gelyk te stel met die heil in die volste sin van die woord. Vir die Bybel is die volle heil nie gelyk aan aardse welsyn en aardse geregtigheid nie. Christus verkondig dat daar ’n skat in die hemel is wat in beginsel onderskeie is van die aardse skatte waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel (Matt 6:19vv). Paulus sê as ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, is ons die ellendigste van alle mense (1 Kor 15:19).

Die geheim van ’n gesonde, gelukkige en sinvolle (Gees-)vervulde Pinksterlewe is die fyn balans tussen hierdie twee pole.

Pieter Fourie
Bybel-Media

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s