Die dag toe die Lof in Loftus gesit is


Jul 21 2008 08:12:15:113PM

Godsdienstige terme is in die verlede meermale gebruik om Loftus Versfeld en dit wat daar gebeur, te beskryf. njackson@beeld.com

Meer as 70 000 mense het Loftus Versfeld Saterdag volgepak. Neels Jackson kyk terug op “Loftus vir Jesus” en skryf oor die dag toe Loftus ?n katedraal geword het.

Godsdienstige terme is in die verlede meermale gebruik om Loftus Versfeld en dit wat daar gebeur, te beskryf.

Loftus is die tempel van rugby in Pretoria, die heiligdom van die Blou Bulle.

Dis die plek waar klein seuntjies geslag ná geslag geleer is om hul helde te aanbid: Hansie Brewis, Frik du Preez, Thys Lourens, Naas Botha, Bryan Habana.

Natuurlik word daar nie van letterlike aanbidding gepraat nie.

Dis maar ’n wyse van spreke om die bewondering van jong kannetjies vir hul helde in blou uit te druk.

Daar wás egter ook al in kerklike kringe ernstiger pogings om parallelle te trek tussen die optrede van sportgeesdriftiges en dit wat in kerke vir mense oor hul geloof gepreek word.

Daar word byvoorbeeld gewys op die manier waarop party ondersteuners se passie vir hul span hul lewens oorheers.

Daar word gekyk na die absolute oorgawe van party mense aan hul spanne, na die byna rituele funksie wat die ondersteuning van hul spanne in hul lewens inneem.

Nie dat sport teenoor godsdiens hoef te staan nie.

Kerklui hou immers daarvan om sporthelde te gebruik om getuienisse oor hul geloof te lewer.

En ’n span soos die Blou Bulle en spelers soos Jaco van der Westhuysen het bekend geraak daarvoor dat hulle nie skaam is oor hul geloof nie.

As kerklui egter ooreenkomste begin raaksien tussen sportliefhebbers se ondersteuning vir hul spanne en godsdiens, is dit waarskynlik om twee redes.

Die eerste is dat hulle bekommerd is dat sport soms ’n ongesond oorheersende rol in mense se lewens begin speel. Dat dit te naby aan afgodsdiens kom.

Maar die tweede is straks dat hulle ’n bietjie jaloers is dat sport soveel passie by mense kan ontlok.

Dat hulle wens mense wil so opgewonde oor hul boodskap raak, as oor hul gunstelingspanne.

Katedraal of teater?

Saterdag op Loftus het dié wens waar geword toe meer as 70 000 mense daarheen gekom het om te aanbid.

Blou Bul-vlae het plek gemaak vir vlae van verskillende kleure met net een woord in groot letters daarop geskryf: Jesus.

Pleks van hoede met horings, was daar talle pette met die man van Nasaret se naam daarop.

Ja, net soos met ’n rugbywedstryd was daar manne met groot pense, maar op die hemde wat oor dié mae span, het gestaan: “Jesus is King”.

En pleks van dronk te word van bier, het mense, soos die apostel Paulus vir die gemeente van Efese aanbeveel het, die Heilige Gees ingedrink.

Skeptiese waarnemers sou dalk kon wonder of Loftus nie dalk met dié byeenkoms iets anders as ’n katedraal geword het nie.

Was dit nie eerder ’n groot mark nie?

By dié vraag eggo die verwyt dan wat Jesus die godsdienstige leiers van sy tyd toegesnou het toe hy hulle uit die tempel verdryf het: “My huis is bedoel om ’n huis van gebed te wees, maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak.”

Of was Loftus nie eerder ’n groot teater nie? ’n Plek waar ’n vertoning opgesit is vir die massas – met Angus Buchan as hoofspeler.

En in elk geval, sou die skeptici kon byvoeg, ’n katedraal is ’n plek van stilte, van sagte gewyde sang miskien, maar nie van blêrende kitare en luidkeelse geraas nie.

By sulke verwyte moet ’n mens natuurlik erken dat die charismatiese tradisie in die Christendom baie geleer het by sakemense en by die vermaaklikheidsbedryf.

En Loftus vir Jesus het vierkantig binne die charismatiese tradisie gestaan. Dit is uit ’n charismatiese kerk gereël en dis op ’n charismatiese manier gedoen.

Natuurlik was daar baie mense wat nie lidmate van die charismatiese kerke is nie. Dit is egter ook so dat ’n groot kerk soos die NG Kerk oor die jare baie charismatiese trekke in hom opgeneem het.

Dat die dag op charismatiese manier gereël is, beteken egter nie dat aanbidding opgeoffer is aan geldmaak of vertoon nie. Allermins.

Natuurlik is daar groot geld betrokke by die reël van ’n dag soos Saterdag. ’n Bedrag van R4 miljoen is deur een van die pastore genoem.

Terwyl geld egter ’n belangrike faktor in die organisasie van die dag was, was wins nooit die oogmerk nie. As dit was, sou die kaartjies nie teen R20 verkoop het nie. Met die aanvraag soos dit was, sou die organiseerders tien keer soveel kon vra.

Op die dag is daar ook geen kollekte of offerande ingeneem nie.

Organiseerders het gehoop dat die verkoop van klere met die embleem van “Loftus vir Jesus” daarop (waarvoor mense by die tafels saamgebondel het), sou help om die koste van die dag te delg.

Hulle was egter meer opgewonde oor die moontlikheid dat die naam van Jesus so prominent op T-hemde, pette en baadjies sou help om die evangelieboodskap nog verder uit te dra.

Teen die naweek was daar nog geen aanduiding of hulle dit sou regkry om ten minste gelyk te breek nie.

Persoonlikheidskultus

Die moontlikheid dat so ’n byeenkoms in ’n vertoning kon ontaard, is ’n wesenlike gevaar, veral in die charismatiese kerke.

Daar is immers rede hoekom hierdie soort verwyt so instinktief deur kritici teen sulke byeenkomste geslinger word. Genoeg mense het godsdiens al op dié manier misbruik.

Daar is ook wesenlike gevaar dat die geweldige aanhang wat die laaste paar maande om Buchan ontstaan het, in ’n persoonlikheidskultus kan ontaard.

Mense vind dit nie altyd maklik om te onderskei tussen Buchan as mens en die boodskap wat hy bring nie.

Self het ek dit al beleef dat ’n pastoor uit ’n Pinksterkerk my min of meer van die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees beskuldig het omdat ek op ’n punt van Buchan se formulering verskil het.

Nie dat Buchan self hoegenaamd ’n persoonlikheidskultus aanmoedig nie.

Op ’n direkte vraag of hy nie soms bang word dat dit meer oor hom begin gaan as oor God nie, het hy vroeër half geskok geantwoord dat hy hoop dis nie die geval nie.

Van verhoë af verklaar hy herhaaldelik: “Dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor God.”

Hy hou homself ook nooit voor as iemand wat beter is as ander nie. As hy stories oor homself vertel, is dit dikwels stories van sy eie sonde en berou.

As hy vertel van groot dinge wat God in sy lewe gedoen het, is dit om vir sy gehoor te sê dat Hy dit ook in hul lewens kan doen.

Hulle moet net glo.

Wat van die sangers wat Saterdag opgetree het?

Vir almal van hulle was dit waarskynlik verreweg die grootste gehoor voor wie hulle nog gesing het, en moontlik ooit sal sing.

Retief Burger het vooraf te kenne gegee dat hy weet dis die groot slaggat waarin hulle kan trap, dat dit oor hul vertoning gaan en nie oor Jesus nie.

Geoordeel aan Saterdag se program is dit ’n slaggat wat hulle goed vermy het. Hulle het die skare voor hulle in sang begelei, nie vir hulle opgetree nie.

Juanita du Plessis het by geleentheid heeltemal stil gebly en dit aan die skare oorgelaat om self te sing: “Lig jou hande na bo, sing halleluja! Gee eer aan Hom, halleluja! Ons koning kom, loof sy heilige naam.”

Louis Brittz het net die eerste woorde van die Onse Vader gesing om die skare aan die gang te kry.

Daarna het hulle stil gebly, terwyl 70 000 kele saggies en gewyd saam dié gebed gesing het.

Jubelklanke

Dit is so dat charismatiese musiek neig om te jubel en te juig. Dit het die skare ook Saterdag met oorgawe gedoen.

“Jesus, U naam is ons kreet!” het hulle saam uitgeroep in die woorde van ’n nuwe lied wat vir die geleentheid geskryf is.

Maar daar was ook ou en beproefde kerkliedere wat oor baie jare ingeburger geraak het.

Dis waaroor die dag gegaan het, of dit in die jubelklanke was van “Shout to the north and the south” of in die byna klassieke klanke van Agnus Dei: “Holy, holy are You . . .”

Dis uitein
delik wat gemaak het dat ’n mens kan sê Saterdag was die dag dat Loftus ’n katedraal geword het.

Dis omdat mense wat daar was, saamstem dat dit regtig oor Jesus gegaan het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s