IS JY ‘n “LEKKER” MENS?


Ek het hierdie e-pos gister gekry en dit het my nogal laat dink…

Dit was by my vriend Piet van Zyl van Kampala, Uganda, wat ek hierdie
uitdrukking die eerste keer gehoor het. En dis juis omdat ek dit by
Piet gehoor het, dat dit op my ‘n indruk gemaak het. Piet is ‘n positiewe
mens.
Hy’s ‘n mens wat ‘n inspirerende kragveld uitstraal. Al is hy nie meer
heeltemal vandag se kind nie, is hy energiek en baie duidelik lus vir
die lewe.

Terwyl ons langs die Victoriameer om ‘n vuurtjie kuier, raak hy die
groot lewenswaarheid kwyt : “Ai, dis lekker om ‘n mens te wees! Maar dan moet jy ‘n lekker mens wees!”

Is ek ‘n “lekker” mens? Dis die vraag wat ek myself al baie moes afvra.
Maak ek die lewe vir myself en ander om my lekker? Beur ek op? Bring ek
lig en lag? Help ek om die lewe draagliker en ligter te maak? Geniet ek, en
gee ek vir ander genot?

Is ek ‘n “lekker” mens in my huwelik en teenoor my kinders? Is ek ‘n
“lekker” mens vir my kollegas en bure? Is ek ‘n “lekker” mens vir die
persoon met wie ek besigheid doen?

Kyk, daar is moeilike mense. In die Namakwaland sou hulle sê dis ‘n
“onlekker” mens. Onaangenaam. Moeilik. Befoeterd. Negatief.
Foutvinderig. Onvergenoeg. Klaerig. Nors. Onvriendelik.

Mense wat nie “lekker” mense is nie, is mense wat nie gelukkig in
hulleself is nie. Omdat hulle kwaad is vir hulleself, is hulle sommer kwaad vir
alles en almal om hulle. Hulle is kwaad vir die lewe. “Onlekker” mense het
sooibrand van hulle eie ongelukkigheid. Daarom maak hulle dit vir mense
om hulle ook moeilik.

Dit begin natuurlik alles in ‘n mens se eie hart en gedagtes. Dit lê in
jou eie lewensingesteldheid.

Ons wat aan Jesus Christus behoort, het goeie rede om “lekker” mense te
wees. Ons is bevry! Verlos! Ons het hoop! Ons het lewe! Ons het
innerlike vrede! Ons kan met nuwe oë kyk – na onsself, na die lewe en na ander!
As mense wat aan Jesus behoort, behoort die nuwe lied in ons hart ook die
lied van ons lewe te wees! ‘n Lied wat my laat dans en wat vir ander om my
vreugde gee!

Jesus-mense behoort “lekker” mense te wees! As óns dit nie is nie, wie
moet dan?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s